Deur Dee Theart (@deetheart)

Elke nou en dan is dit nodig om ’n skoon blaadjie om te slaan. ’n Nuwe begin. As dinge te monotoon word, is dit tyd vir nuwe lewe; nuwe energie. Dis wat die nuwe groep in die Afrikaanse musiekbedryf, Die Begin, poog om te doen. Hulle musiek word beskryf as Afrikaanse folk. “Afrikaanse wát?!”, kan ek jou hoor vra. Ja jy het reg gelees – folk skop nou in Afrikaans! SA Music Scene stel bekend: Die Begin.

Daar is niks wat my meer plesier verskaf as mense of musiek wat heeltemal onkonvensioneel is nie. Dit dui op ’n brawe – soms uitdagende en astrante – ingesteldheid. En dít maak musiek sexy. Juis dit is die geval met Die Begin. Die groep het begin opslae wek toe dit bekend word dat Jaco van der Merwe (Bittereinder se rapper) deel is van hierdie side project. Gooi daarby vyf ander talentvolle musikante, intense lirieke, mooi melodieë en ’n verskeidenheid instrumente (insluitend ’n glockenspiel en ’n marimba)en Die Begin is gebore. Dis moeilik om te sê of hulle musiek melodie- of liriekgedrewe is, want albei dele speel ’n ewe integrale rol in die groep se sukses. Dit is dalk waarin my bewondering vir Die Begin lê: hulle maak musiek vir musiek se onthalwe. Nie om mense se aanvaarding te wen nie en ook nie om bekendheid te verwerf nie. Verwagtingloos en gestroop van pretensie.

Waar en hoe het die idee vir Die Begin ontstaan?

Vyf plaaskinders, een Afrikaanse rapper, ’n oneindige braaivleis vuur en ’n motorhuis vol akoestiese instrumente in Brits. Min of meer so iets.

 

Vertel ons van die groep se lede – ons almal ken vir Jaco van Bittereinder, maar wat doen die ander lede vir ’n lewe?

Liani Reynolds is ’n arbeidsterapeut, maar hou haar tans besig met ma-wees vir haar en Kalla (ook ’n lid) se vier seuntjies. Kalla en twee ander lede, Kallie van Heerden en Malherbe van Heerden, verhandel graan en Christiaan Reynolds doen maar sy ding.

 

Wat simboliseer julle naam? 

Watookal jy wil. Vir ons dui dit op ’n nuwe rigting, iets wat lankal voor gewag is, die einde van iets soos ons dit nou ken  … vir ons beteken dit basies om al die drome te gaan afstof en weer net musiek te maak en dit saam te geniet, sonder enige verwagtings.

 

Hoekom juis Afrikaanse folk – dink julle daar is ’n behoefte vir so iets nou of hou julle net bloot van die genre?

Dit is musiek wat sag op ons ore val. Die kreatiewe proses was baie uncluttered, heeltemal organies. Ons het regtig maar net die musiek gemaak wat in ons hart was op daardie stadium, sonder om te dink in watter genre die musiek pas. Aanvanklik het ons glad nie eers gedink aan opneem nie. Dis nou lekker dat ander dit ook geniet.

Vertel ons van die EP titel – “Knoppiesdoringstraat”

Die huis waar ons gebraai, musiek geskryf en gejam het, is in Knoppiesdoringstraat in Brits. Dit is letterlik waar Die Begin begin het en dis die ruimte wat vir elkeen in die band op verskillende tye soos ’n safe house was.

 

Hoekom die besluit om ’n nuwe weergawe van Fokofpolisiekar se ‘Brand Suid-Afrika’ op te neem? 

Ons het baie van die song gehou, veral die briljante koor en die lirieke se eerlikheid. ’n Goeie cover“herskep” gewoonlik ‘n liedjie in ‘n heeltemal nuwe musikale konteks. Ons glo ons het dit ons eie gemaak sonder om iets weg te vat van die oorspronklike liedjie. ’n Cover is mos eintlik ’n tipe tribute aan ’n vorige skepping. Hunter het darem gesê hy hou daarvan en daaroor is ons die blyste.

Wie dink julle sal Die Begin se musiek geniet? 

Mense wat hou van kunstenaars soos Efterklang, Arcade Fire, Bon Iver, Fleet Foxes, Regina Spektor, Matthew van der Want & Chris Letcher, My Brightest Diamond, Sufjan Stevens, Mr. Cat & the Jackal en daai tipe cats, behoort darem te kan geniet wat ons doen. En mense wat lief is vir Afrikaans en vir kuns. Die Begin se musiek is eintlik verskriklik kaalgestroop.

 

Wat is julle optree hoogtepunte sover?

Definitief Oppikoppi 2012, en ook ’n Koos du Plessis Tribute Show wat ons in Pretoria gespeel het. Magicaand daai. Ons het ’n cover van Koos se liedjie ‘Pretoria’ gespeel en dit bietjie ge-remix met Jaco se vers oor Pretoria wat hy in Bittereinder se liedjie ‘A Tale of Three Cities’ rap. Dit was awesome.

 

Hoe werk die musiekmaak proses? 

Liani en Jaco skryf en komponeer die musiek en Kalla maak die koffie. Uiteindelik bring elkeen maar sy eie styl en idees na die liedjies toe, maar die meeste van die komposisies begin by Jaco en Liani.

 

Wat inspireer julle musiek?

Long romantic walks on the beach. A basketful of puppies. Hoe beantwoord mens regtig daai vraag? Ons lewens inspireer ons musiek.

 

Wat is mense se reaksie op julle musiek tot dusver? Enige interessante/snaakse kommentaar? 

Ja-nee. ’n Klomp mense love dit instantly, ander is maar effe verward. Ek dink nie die Afrikaans folk soundis al baie established in die greater Afrikaner consciousness nie. Mense het ons al Steve/Sonjaimpersonators genoem. Maar sulke mense sou heel moontlik dink The Civil Wars is Steve en Sonja wat ’n Engelse album gemaak het. Maar ons ervaar definitief ’n oorheersende positiewe terugvoer, ja.

Die Begin

 

Wat is Die Begin se grootste droom?

Om ’n landswye toer te speel in elke klein dorpie se stadsaal, veral in die Karoo.

 

Die Begin opgesom in 3 woorde. 

Kaalgatdans-inni-reënmusiek. Soos die reuk van omgeploegde grond.

 

Daar is ’n musiekvideo in die pyplyn; asook ’n vollengte album.

 

Vir nou kan jy hulle vyfsnit EP, ‘Knoppiesdoringstraat’, gratis aflaai hier!

 Like Die Begin op Facebook!

1 COMMENT

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here